Nuus en foto's van ons lewe in Mosambiek!
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
News and pictures of our life in Mozambique


Wednesday, 16 January 2013

Nuusbrief 2013




  Jan 2013!

Reëntyd!!
Ons wêreld is Groen en Nat!  Dis die middel van die reën­seisoen en glo my, dit reën elke dag!  Saam met die reën koel dit darem heerlik af, maar saam met die koeler weer kom die modder en die min sonskyn – en dit is sekerlik Mosambiek opgesom – nooit in mooi balans nie!  As daar te min water is, dan het ons sonskyn en krag, en as die water weer te veel is, het ons nie sonskyn of krag nie!  :)  Maar in als is ons dankbaar!

Lig vir die nasies?
Twee vriende het ons gehelp om ’n aantal solar-lig “kits” aan te koop wat ons weer hier aan die mense verkoop.  Die tydsberekening was wonderlik, aangesien ons dit vir minder as halfprys kon kry!  Ons het nogal gewonder of die mense hier die eerste 10 stelle sou wou koop of sou belangstel, maar binne twee weke het elkeen ’n baas gekry!  Alfred het een aand ’n demonstrasie gehou en almal was BAIE beïndruk met die helder liggies!  Nou gaan Alfred ons een werker oplei om die kits te installeer en te help met instandhouding.  Lig maak so ’n groot verskil in hul lewens en ons bede is dat hul ook eendag die Ware Lig van die wêreld sal ontmoet en aanneem as hul Verlosser!
 
   

Dinge waarmee ons besig bly…..
Alfred het die 2de Januarie weer ingespring met sy taal leer en vorder baie goed!  Hy hoop om aan die einde van die jaar te begin met vertalings werk van die materiaal wat hy wil gebruik vir die Evangeliseringsfase!  Bid asb vir hom vir die jaar!  Dit gaan ’n besige jaar wees.

Taalles voorbeeld!!  :)  Alfred het dit gebruik om die solar ligte te verduidelik!
Aji caixa mwana bateria ni n’twe.
Hierdie kas bevat die battery en die brein.
Kolela kwa kageesi gecejeewu yikulosya kuti caixa jikuseveesa.
Die rooi liggie wys dat die stelsel aan is.
Aji ni payineela.
Hierdie is die sonpaneel.
Aluumbice payineela ku maalo gecejeewu.
Koppel die sonpaneel se draad in die rooi prop.
Kolela kwa kageesi kawusaamba yikulosya kuti payineela jikuseveesa.
Die groen liggie wys dat die sonpaneel werk.
Kwana mageesi n’cece.
Daar is vier ligte.
Asweece piwu swa mageesi ku maalo gepidiwu.
Prop die ligte se drade by die swart proppe in.
Alole, digeesiidi dyana dilaanguka dyekuluungwa.
Kyk, die gloeilamp maak baie lig.

Skool:
Ons skool het die 7de Jan begin.  Dié jaar het ek my eerste hoërskoolleerling!  Christiaan is in gr 8, Bernard in gr 7 en Stefan in gr 5!  Ons sien uit na die jaar en is baie dankbaar vir ons heerlike skoolboeke!!  (Die foto’s is in Malawi geneem, aangesien ons die skoolboeke nie Lichinga toe kan pos nie, maar wel na Blantyre.)  Beslis die hoogtepunt ná Kersfees vir ons 4!



Bid asseblief saam met ons vir:
·         Volharding en selfdissipline met die taal leer en verhoudings bou
·         Ons kinders en skool
·         Gesondheid en beskerming

Ons dank die Here vir elkeen van julle wat ons op die een of ander manier ondersteun of vir ons intree.  Ons bid julle ook die Here se oorvloedige seën toe!
Baie liefde-groete


Bernard se 12 de verjaarsdag die 24ste Desember!

No comments:

Post a Comment