Nuus en foto's van ons lewe in Mosambiek!
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
News and pictures of our life in Mozambique


Tuesday, 20 April 2010

Nuus uit SA!

Liewe vriende,

Vandag was ons 5 in ’n winkelsentrum en toe ek so afkyk na almal se gesiggies – myne en Alfred s’n ingesluit – kon ek net glimlag!! Na 3 weke in SA is ons nog nie gewoond aan die Wonder van Winkels nie!!

Vandat ons in Pretoria aangeland het, het ons letterlik van die een afspraak na die volgende gehardloop!! Alfred kon by Wierdapark-Suid preek en ons het ook by drie ander gemeentes terugvoer gegee, plus twee terugvoer aande gereël en ook een geleentheid by die Seniors gehad! Wat ’n voorreg was dit nie om te kon vertel wat die Here oor die laaste jaar gedoen het nie!! Voor ons uit Mosambiek gery het, het die Here die volgende op ons harte gedruk – Gaan en wees My getuies! Hy is getrou en wil hê ons moet getuig oor wie Hy is en wat Hy doen!!


Buiten al die terugvoer was ons al 5 by die tandarts, ons kar moes ’n nuwe waterpomp kry en nuwe bande (waarvoor die Here op ’n verrassende wyse voorsien het!!!), nog dokters afsprake, lekker kuiers by familie en vriende, inkopies, ens, ens!! ’n Vol tyd!

Ons is nou in Kaapstad en is die Here baie dankbaar vir ’n veilige reis!! Ons het nie besef dat ons aan die einde van die Paasnaweek die langpad In Verkeer sou moes aandurf nie!! Wat ’n skok vir ons “Bos-mense”!! J


Die kinders is nou reeds een week in die skool en hulle geniet dit baie. Al is die skoolwerk anders, vaar hulle baie goed! Hulle geniet ook die ander aktiwiteite soos tennis, rekenaar­klub en rugby. Daar was groot opwinding toe elkeen ’n nuwe tas kon uitkies en elkeen sy nuwe skoolklere vir die eerste keer kon aantrek! Bernard was bietjie verbaas toe ek hom meedeel dat almal dieselfde klere en skoene moet dra en wou weet of hy nie maar net met sy gewone klere kan gaan nie!

Ons kursus by ons sendingorganisasie, SIM, het vandag begin. Vir meer inligting oor SIM, sien www.sim.org op die Internet.


Bid asb saam vir ons:

· Vir die kinders se aanpassing in die skool – Christiaan is nou in gr5, Bernard gr3 en Stefan gr2.

· Vir ons twee – dat die Here ons batterye sal herlaai en sal volmaak met Sy Gees!

· Vir ’n geseënde tyd by SIM.

Ons groet vir eers uit die mooie Kaap!