Nuus en foto's van ons lewe in Mosambiek!
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
News and pictures of our life in Mozambique


Saturday, 17 September 2011

Nuus in Afrikaans!




Liewe vriende, Augustus 2011

Die afgelope paar maande was omtrent vol gepak! Hier volg ons nuus…

Christiaan het gekies om sy 12de verjaarsdag in Mei by die meer te vier! Eers was daar net twee gesinne wat saam sou kom kamp, maar gou was daar vele meer heerlike maats!! Die strand en water het krioel met kinders, ma’s en pa’s en selfs ’n ouma en oupa! Die keer was dit nie die vermeerdering van die brood en vis nie maar die vermeerdering van die Verjaarsdag Koek!! J Almal het ’n heerlike tyd gehad!

Claude is ’n jong man van Switserland wat deel is van ons SIM span in Lichinga. Hy het sy jaar nasionale diens kom doen het in Mosambiek. Hy het onder andere rekenaarklasse in Lichinga aangebied. Ons het hom gevra om vir ons werkers dieselfde opleiding to kom gee. Hulle was so opgewonde en het baie goed gedoen! Die verbasing en wonder op hulle gesigte toe hulle “lewensgeskiedenis” voor hul oë uitgedruk word sal ons (en hulle) nog lank onthou!! J Ons hoop dat hulle later kan help met vertaling en literatuur vir die Yao mense. Claude was ’n seën en bemoediging vir ons!

Claude se pa en broer uit Switserland het ook ’n paar dae hier spandeer en Beat het die stoorkamer se deur die mooi pers laag gegee! ’n Perfekte kleur om na te kyk deur my kombuisvenster!

Colin! Hierdie 70-jarige sendeling staan vir niks terug nie!! Colin het alleen al die pad tot by ons gery en dit met ’n seer skouer (wat ons later uitgevind het ’n rotatorkraag skeur gehad het!!) Hy het gekom om te help met die bouwerk van ons nuwe stoor en waghuisie – die ou stoor en huisie het nou na 2 jaar heel skeef gestaan en moes vervang word. Colin het ook ’n hele wa-vrag lekkernye uit SA vir ons opgery! Dit was Kersfees in Junie! Buiten die bouwerk het hy ook allerlei klein werkies in en om die huis gedoen en was hy ’n baie aangename skottelgoedwas-maat vir my! J Dankie aan Witrivier gemeente wat bygedra het dat hy vir die maand na ons toe kon kom!

Boskamp…… in en om Lichinga is daar heelwat sendeling-kinders. Een maal per maand hou die Cranes in Lichinga ’n jeuggroep waarna al die 10jariges en op gaan. Ons het gedink dit sal lekker wees om die groep van 20 kinders hier by ons te hê vir ’n naweek Boskamp! Henriette, Normand en Claude het kom help om die program aan te bied! Dit was vet pret! Morse kode met flitse, nagmars, knope, brood bak, noodhulp, kompaswerk en kaartlees, vêr stap die veld in, saam sing en lag was deel van die naweek. Die kinders moes ook ’n hoender slag en gaarmaak tot almal se vermaak of skok!!

Klaus en Monica en hul seun Rudi het vir 5 dae hier by ons kom inspring met harde werk! Hulle gemeente, Florandia, het hulle gestuur om ons te kom help en wat ’n seën was hulle nie!! Toe ek hulle by die lughawe gaan haal het, het ek prober om hulle voor te berei vir die lang lys wat Alfred reeds uitgeskryf het! J Voor aandete reeds het Alfred en Klaus al klaar twee deure gehang en Rudi en ons seuns was orals besig om ligte reg te maak en drade te skuif en wie weet wat nog! Monica het my gehelp om die kombuiskaste klaar te verf, kos te maak vir al die honger manne en dit was heerlik om te gesels en lag in Afrikaans!!! Ons het hulle besoek terdeë geniet en sê dankie aan Florandia! Ons was omtrent besig met besoekers, maar dit was lekker! J


SIM Konferensie
: Eenkeer per jaar hou ons SIM span ’n konferensie van 5 dae. Die jaar was dit my en Alfred se beurt om dit te reel. Ons was op Muapula – 4 ure se ry van ons af en diep-inniebos! Dit was harde werk, maar ons het dit geniet! Al die kamers moet van niks af regemaak en ingerig word. Alfred het gehelp met allerlei werk om dit gemakliker te maak vir die sendelinge – soos die “donkie” se pypwerk, teels insit, ligte koppel en 100 ander dinge! Ek en Nickey het onsself geniet deur met dit wat ons gehad het die kamers mooi te versier. Die seuns het ook fluks gehelp – kamers moes uitgeverf word, allerlei goed moes aangedra, vashou en inkap word! In die week het ek 30km op en af met my fiets gery! Ernst en Catrha Muller was ons gassprekers van die Mozambique Hub en Charlene Franken van KSM het ons kinderklub kom aanbied. Dankie aan KSM en Moz Hub wat dit vir hulle moontlik gemaak het om te kom! Hulle was ’n groot sëen!

Alfred het die kans gebruik toe NTM se taal konsultant by ons kollegas was, om self ook ’n verkorte taal evaluasie te ondergaan. Die resultate was baie bemoedigend! Alfred doen regtig goed met die taal. As ons nou die hoofman gaan besoek met ons besoekers het hy amper nie meer ’n tolk nodig nie en gesels al te lekker! Ek kry nog swaar met die taal! Om tyd te vind om regtig myself in te grawe is baie moeilik! Ek doen wat ek kan, maar sal julle gebede waardeer!

Tuisskool is ook weer aan die gang na 3 weke vakansie! Ons het nog 14 weke skool oor en vorder goed!

Alfred word so nou en dan gevra om te help om ’n mielie oes te gaan help inbring met Anthony se klein wit trokkie. Gister sê hy so ewe vrolik dat hy teen half een terug sal wees, want dis naby die sandgat en dus nie so vêr nie…wel, die mense hier kan STAP en vêr ook! Vir hulle was die mielieveld regtig sommer naby, maar op die ou end was dit meer as 5km diep innibos in met die trokkie! En twee vragte later was Alfred eers lank ná 3 terug! J

Kinders:

Ons kinders word groot in ’n mengelmoes van tale en kulture. Sommige van hulle sêgoed is in Engels, verstaan tog maar en onthou hulle word groot in ’n ander wêreld – Afrikaans, Portugees, Yao, Engels, ens!

Stefan lees vanoggend in Bybelklas "Paul's letters were copied and pasted to the churches"...beslis ’n kind van die rekenaar era! :)

Bernard het ’n nuwe woord in Afrikaans opgemaak - naadel – hy wou sê naald...en bars toe saam met ons almal uit van die lag en sê toe ewe sedig “Wat verwag julle? Julle vat my Engeland toe, toe ek 4 was, ek was 5 in Portugal , 6 in Mosambiek, wat verwag julle?” Ja, ons praat soms baie snaaks! :)
Ek haal ’n redelike groot sandvlooi uit een van die seuns se tone en sê toe “Uit jou varknek!” waarop die meneertjie toe vra of “varknek” ’n woord is wat ons mag gebruik!!
Christiaan sê met ’n vreeslike dramatiese stem nadat ons kar se matte erg nat geword het… “The Paetzold’s have undertaken the great task of dismantling the car!” Sy pa was nie baie opgewonde hieroor nie!!
Stefan verjaar die 27ste Augustus en word 9!! Ons sê elke dag dankie vir ons kinders – hulle is ’n vreugde!!

Snaakse stories……??

’n Vriendin het voorgestel dat ons so ’n paar snaakse stories deel, maar soos ek begin terugdink oor die laaste paar maande kan ek net aan hartseer stories dink – moslem-begrafnisse van ’n klein baba en ’n ou man wat hier naby ons gebly het, siek mense wat net geen hoop het nie. Dit mag dalk idillies lyk vir die stadsmens wat hier kom kuier, maar regtig, die sê-ding “Stille waters, diepe grond, onder draai die duiwel rond” is waar vir hierdie plek, hierdie mense. Hulle het Jesus nodig! Bid asb vir ons dat ons hul taal gou sal leer! Dat God hul sal red van hul doodsbestaan!!

DVD Ons het so ’n kort DVD gemaak van ons lewe hier – as jy dalk lus het om dit te sien laat ons asb weet dan kyk ons of ons ’n DVD by jou kan kry!

VoorbiddingOns het onlangs heelwat situasies beleef waarin ons magteloos was of waaroor ’n mens geen beheer het nie. Die Here het dit gebruik om my opnuut te laat besef hoe belangrik voorbidding is. As jy voel die Here lê dit spesifiek op jou hart om gereeld vir ons te bid, laat weet ons asb, sodat ons met jou daaroor in kontak kan kom. Ons dink daaraan om weekliks ’n kort gebedsbrief uit te stuur aan voorbidders (dis nou bo-en-behalwe ons gewone nuusbriewe wat ook gebedsversoeke bevat).

Nou ja, dis reeds meer as genoeg nuus van ons kant af! Mag die Here jou seën!

Baie liefde,


No comments:

Post a Comment