Nuus en foto's van ons lewe in Mosambiek!
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
News and pictures of our life in Mozambique


Thursday, 18 February 2010

'n jaar later.....











Ons huis waarin ons die laaste jaar gewoon het





Ek kan amper nie glo dat ons al ’n jaar hier bly nie! Hier, beteken natuurlik in die “bos” – ’n klein, ongemerkte dorpie oppad tussen nêrens en êrens! Wat ’n jaar! Toe ons in Maart 2009 hier ingetrek het was dit reg in die reëntyd! Dit het gereën vir dae aaneen en nie ’n romantiese ou Kaapse motreëntjie nie, o nee! As dit reën dink ons aan Port Elizabeth gemeng met die elektriese storms van die Rand! Ek het gedink ek gaan dit nooit maak nie – hoe kry jy die klere droog en hou jy die seuns skoon?? Het ek genoem die kersie op die koek was dat daar net, NET rooigrond om ons is?? Maar nou ja, die mens is ’n baie aanpasbare wese en hier is ons nog – seker sterker, beslis nader aan God al het ons rooi voete!

Een ding wat ons hier leer is dat Voortrekker kampe, oorlewingskursusse of die liefde vir kampeer jou regtig nie kan voorberei vir die lewe hier nie! Dit help, maar dis amper soos om iemand se baba op te pas vir ’n nag of twee – totdat jy jou eie baba het verstaan jy nie regtig wat dit behels om ’n ouer te wees nie! Jy het totale indompeling nodig!! En ja, dit maak dat mens soms voel asof jy wil verdrink met al die nuwe dinge wat jou tref soos golwe…die vreemde taal, snaakse gebruike, die geïsoleerdheid, ens, ens!

Op ’n praktiese vlak verg daaglikse, normale take net baie meer van jou! As ons warm water nodig het, maak ons vuur, die dorp is ’n uur se ry weg met geen mark of winkel naby nie, ons huis was piepklein en in die droë tyd moet ons al die water van die rivier af aanry huis toe, om ’n paar goed op te noem!! Ek wil nie kla nie en my idee is nie dat jy jammer voel vir ons nie, maar tog help dit om ’n goeie prentjie te he van hoe die lewe hier is! Dit is nie idillies of romanties nie – en ja ons gebruik gereeld kerse vir baie meer praktiese redes!! :0

Daar is baie voordele ook….
Die kinders het ’n sorgvrye lewe en speel heerlik! Die tyd in SA gaan hulle vir een termyn na ’n gewone skool en ek wonder soms hoe gaan hul cope – hulle vir wie selfone nie belangrik is nie, nie sms gedrewe gesprekke voer nie, heeldag buite kan speel, grawe en bou!! Hulle kan waarlik kind wees!
Met ons roeping amper 12 jaar gelede na Mosambiek is dit ons droom wat waar kom! Die onbereiktes is werklik onbereik! Ons harte gaan uit na die mense hier – ek dink aan Openbaring wat se die mense was arm, blind en kaal…….(Op 3:17)

Die afgelope jaar was ons ‘n oorheersende, groot uitdaging natuurlik die bou van ons huis! Ons het in mede-sendelinge se woonstel gebly en in die buurdorp begin bou. Elke steen was met die hand gemaak, elke deurraam uit hout gesaag, selfs die vensters moes Alfred ontwerp en maak! “Hoe en waar gaan julle fondse kry vir die projek en dit in die middel van die resessie??”, het ons baie gehoor, maar die Here het werklik van dag tot dag voorsien! Nie eenkeer moes die bouwerk ophou agv gebrek aan fondse nie! Die Here is getrou! Dit was ook baie bemoedigend om te ervaar hoe die Here ook mense op die regte tyd gestuur het met spesifieke kennis om te help met die huis!! Ons huis is nou amper klaar en ons hoop om einde Februarie in te trek! Aan die begin van die bouwerk het ek vir Alfred die vers in Eksodus toegebid – Eksodus 31:1-6 - werklik die Here het hom geseën in sy werk!

Om op God te vertrou het natuurlik nuwe hoogtes bereik! Wat maak mens met ’n siek kind? Of ’n lelike brandwond van jou buurman se kindjie?? Jy BID!! Jy vertrou meer en meer op God en staan terug in verstomming hoe die Here leiding gee, gesond maak, kalmte bring. Jy vertrou op die Here om vir jou ’n plekkie te gee in die mense se harte – mense wat eintlik van die ander geloof is en alhoewel nie fanaties nie, tog nie baie lief vir Christene is nie! Ons staan verstom hoe die Here vir ons goeie eerlike werkers gestuur het, manne wat ons vriende geword het, manne en vroue wat ons graag wil sien die Here loof en prys!

En daarom kan ons terugkyk op die jaar – ons eerste jaar hier – en dankie se dat God ons deurgedra het, of liewer hoe Hy ons op sy skouers getel het in die woeste storms en ons veilig gehou het! Ons sien uit na ons tyd in SA, maar meer nog sien ons uit na die tyd wat ons gaan terug kom! Dis met verwagting dat ons uitsien na die dag wat ons mense hier, God gaan aanneem as hul eie persoonlike Verlosser!

belinda

No comments:

Post a Comment