Nuus en foto's van ons lewe in Mosambiek!
~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~
News and pictures of our life in Mozambique


Thursday, 21 January 2010

Januarie Nuusbrief





Die jaar is maar net 21 dae oud, maar ons voel al klaar asof ons agter is!!!  2010 beloof om ’n vol jaar te wees!

Huisbou:
Die huisbou projek het in Mei 2009 afgeskop en nou, 8 maande later, staan ons weereens verstom en met dankbare harte voor die Here – Hy het op soveel wonderlike maniere voorsien oor die laaste jaar! Wanneer die huis klaar is, sal dit beslis ’n monument wees van God se getrouheid!
Twee slaapkamers, die leef area en kombuis se vloere moet nog gegooi word, deure moet nog gemaak word en vensters word nou ingesit! Daar was ’n paar terugslae met die boor, 2 sirkelsae en die waterpomp wat als in een week gebreek het, maar ten spyte daarvan vorder die werk goed!!!
Ons het probeer om van die plaaslike hout (vensterrame, dakbalke), dooie bome (stoep pale), gras (plafonne) en selfs die rooigrond (bakstene) in ons huis in te werk en dit lyk baie mooi!! ’n Regte Afrika huis!

Hannes Mentz van die Witrivier gemeente kuier (of liewer werk) op die oomblik hier om ons te help met die maak van die kombuiskaste. Ons is baie dankbaar vir sy hulp!

Is daar dalk iemand wat wil kom help vir ’n week met verf-, teël- of loodgieterswerk? Ons waarborg dat jy goed sal slaap, genoeg vars lug sal kry en GEEN verkeer sal sien nie!!  Daar is 4 vlugte per week tussen Maputo (of Johannesburg) en Lichinga!

Tuisbesoek:

Om deel te word van SIM, ons sendingorganisasie, moet ons ’n 2 maande kursus bywoon. Hulle was baie te gemoedkomend en het die kursus uitgestel sodat ons eers die huisbou projek kan afhandel. Die kursus is van 12 April tot 11 Junie. Ons sal van 17 Maart tot 4 April in Pretoria wees. Ons hoop om lekker saam te kuier en sal nader aan die tyd ’n program kan deurgee.

Skool:
Die Springbokskool het al die 4de Januarie weggetrek op ’n dolle vaart! Dié jaar is Christiaan in gr 5, Bernard gr 3 en Stefan gr 2. Ek het darem drie baie oulike studente en hulle werk hard. Die tydperk wat ons in SA moet wees vir die SIM kursus sal die drie na ’n gewone skool gaan – hulle sien baie uit daarna en droom van rugby speel, baie maatjies hê wat almal soos hulle lyk en dink – natuurlik glad nie aan huiswerk en langer skooltye nie, maar ek gaan hulle nie nou al te veel oor die aspek inlig nie!!! Dit is dan ook deel van ons uitdaging die jaar – om ons eie kurrikulum klaar te maak saam met ’n langer as normale tuisbesoek!

Waarmee hou ons onsself nog besig??

Buiten die huisbou help Alfred baie met allerhande sweiswerk – hy het al talle fietse, motorfietse en meulens reg gesweis! Hy het ook nou die dag die dorp se enigste boorgat handpomp reggemaak – die pomp was al twee maande lank stukkend en die mense moes die vuil rivierwater drink met slegte gevolge vir die mae!! Hy help ook om goed aan te ry met die wit trokkie en het nie ’n vervelige oomblik of ruskans nie!!!

Ek help waar ek kan met mediese probleme – verkoues en griep, maagprobleme, wonde en brandwonde sien ek gereeld – die kliniek is 10km se stap of fietsry van ons huis af!! Waar ek kan, gebruik ek plaaslike beskikbare “medisyne”: heuning, sout, papaja, piesangs en selfs vlapoeier! Die Here seën dit en dis wonderlik om te sien hoe Hy deur die basiese goed mense se lewens aanraak!!



Die kinders geniet die lewe hier BAIE!!! Hulle kap en saag, bou en plant! Dis ’n heerlike lewe vir ’n kind! Soms mis hulle maatjies van hul eie kultuur maar glo my hulle speel tog te heerlik “cops and robbers” met enige gewillige siel!!!

Ons is ook baie dankbaar dat ons vir ’n week en ’n half oor Kerstyd saam met vriende kon gaan uitspan by die meer. Dit was ’n wonderlike tyd van rus, kuier en net weer batterye herlaai!!!

Gebedsversoeke – dra ons asb op aan die Here!:

• Ons is baie dankbaar dat ons kar weer reg is!
• Sê saam met ons dankie dat ons die sinkdak kon opkry en dat die Here die huis beskerm het teen al die reën in die tyd!!!
• Bid asb vir Alfred met die bouwerk – dit is nie maklik om hier in die “bos” ’n huis te bou nie – bid asb vir krag en uithouvermoë!!! Ons is in die pylvak!!!
• Ons hoop om eersdaags in te trek – dalk einde Februarie – bid asb vir die voltooiing van die huis en ook vir ons as gesin. Hierdie is ons 4de trek net in Mosambiek!!!!
• Bid asb vir ons skool en die kinders met al die uitdagings en aanpassing die jaar!
• Kan jul ook bid vir ons algemene gesondheid??
• Bid asb ook vir die mense hier wat God so nodig het!!

Dankie:
Baie, baie dankie vir elkeen wat ons help om hier te kan wees – finansiële hulp, saam bid, besoeke, inkopies en oproepe – mag die Here julle seën!

Baie liefde



1 comment:

  1. Hallo. Ek is bly ek kan die eerste een wees om my kop te knik!! Alles lyk baie opwindend, en ek is saam met julle opgewonde oor al die verwikkelinge. Sal bid ook. Groete!!!

    ReplyDelete